Geagte kliënt,

 

Insake: Nuus van Fortifood

Ons maak graag van hierdie geleentheid gebruik om u in te lig oor die nuwe FHS produkte en ander inligting wat u nuttig mag vind. U ontvang hierdie opdatering van inligting omdat u produkte aangekoop het by FHS gedurende die afgelope jaar. Indien u verkies om in die toekoms nie sodanige bekendstellings te ontvang nie, wil ons u vriendelik versoek om met ons kantoor in verbinding te tree ten einde u naam van die lys van geïnteresseerdes te verwyder.

Aangesien daar ‘n aansienlike tyd verloop het sedert ons laaste nuusbrief, vertrou ons dat die huidige nuusbrief u behulpsaam sal wees om die nuwe inligting te bekom en moontlik help om antwoorde te verskaf op sommige vrae wat u mag hê.

 

  1. 1.       HEENGAAN VAN PROFESSOR SERFONTEIN

Dit is met groot treurigheid dat ons u verwittig van die heengaan van professor W.J Serfontein in sy slaap op 11 Julie in die ouderdom van 87 jaar.

 

Professor Serfontein is naby die Noord-Vrystaatse dorpie Koppies gebore, en het sy Ph.D in 1952 verwerf aan die universiteit van Leiden (Nederland). Hy het as navorser die teenwoordigheid van kanker-verwekkende nitroosamien in sigaretrook ontdek.Hy het verskeie boeke oor nutrisie en natuurlike medisyne geskryf, en het 74 artikels en navorsingsresultate in internasionale mediese en wetenskaplike joernale gepubliseer.

 

Nadat hy as Emeritus Professor  by die department chemiese patologie aan die Universiteit van Pretoria afgetree het, het hy hom toegewy aan opleiding en skryf oor natuurlike maniere om gesondheid te bevorder. Gedurende hierdie tyd was hy ook betrokke by verskeie besighede in die komplementêre medisyne-industrie, sommige waarvan vandag nog bestaan.

 

Aangesien groter besighede noodgedwonge gerig is op winsbejag, stel sulke besighede gewoonlik nie belang in produkte waarvoor daar beperkte markte bestaan nie, wat tot gevolg het dat baie doeltreffende natuurlike produkte nooit by die verbruiker uitkom nie. Die behoefte aan ‘n gespesialiseerde en bekostigbare produkreeks is deur professor Serfontein saam met sy seun Enkie verwesenlik deur die oprigting van Fortifood .

 

Hy is deur baie as ‘n ikoon van natuurlike en komplementêre medisyne beskou en was een van die baanbrekers oor die onderwerpe van die helende krag van nutrisie, lewenstyl en natuurlike medisyne in Suid-Afrika. Hy word oorleef deur sy vrou Lize (90), drie seuns en sewe kleinkinders.

 

Die familie wil ook graag deur middel van hierdie nuusbrief  almal hartlik bedank vir hulle medelye en die goeie wense gedurende hulle verlies.

 

Die “Prof.” het gedurende die afgelope paar jaar as Fortifood se tegniese spesialis opgetree en was verantwoordelik vir navorsing en nuwe produkontwikkeling. Sy heengaan laat weliswaar ‘n groot leemte by Fortifood, maar gelukkig het hy oor die jare goeie verhoudings opgebou met eenders-denkende lede van die gesondheidsprofessie as gevolg van sy bereidwilligheid en entoesiasme om inligting en insae te deel met almal. Ons hoop om op hierdie verhoudings voort te bou om Fortifood in staat te stel om dit wat die Professor sy lewenstaak gemaak het verder te neem. Ons is ook in die bevoorregte posisie dat ons toegang het  tot al sy navorsing en ongepubliseerde publikasies en artikels wat ons in hierdie nuusbrief en op anders wyses sal publiseer. Die laaste van sy boekies oor verskeie gesondheidsonderwerpe is reeds by die drukkers en ons sal u in kennis stel sodra dit beskikbaar raak. Hy het tot sowat ‘n jaar gelede nog aan hierdie boekies geskryf.

 

  1. VITAMIEN D IN DIE VOORKOMING VAN VEELVOUDIGE SKLEROSE

Populasiestudies dui daarop dat aanvulling met vitamien D oor ‘n lang termyn die risiko van MS in vrouens met tot 40% kan verminder. Inname van minstens 400iu (10mcg) per dag, hoofsaaklik deur aanvulling, het blykbaar die grootste beskermende werking (bron: Natural Medicines Comprehensive Database). Verdere studies in meer as 7 miljoen mense het gewys dat hoër vlakke van vitamien D gepaard gaan met ‘n beduidende verlaging van die risiko om MS te ontwikkel. Hierdie inligting, tesame met verskeie ander nuwe positiewe navorsing oor vitamien D, dui daarop dat die daaglikse aanvulling daarvan wenslik mag wees, veral vir diegene met ‘n verhoogde risiko om MS te ontwikkel.

 

  1. 3.       ANTIBIOTIKA HELP NIE VIR SINUSITIS NIE

Hierdie feit is niks nuuts nie aangesien proewe in die verlede herhalend dieselfde resultate gelewer het. In ‘n gerandomiseerde kontroleproef bestaande uit 166 volwassenes met akute sinusitis het die pasiënte ‘n tiendag kursus van amoxicillin (1500mg/dag) of plasebo 3 x per dag geneem. Gedurende dae 3 en 10 het die resultate geen noemenswaardige verskille getoon nie. Daar was ook geen verskil in dae afwesig van die werk, herhaling van die toestand of ander roetine lewensaspekte nie. (Fiore K. Antibiotics no help for Sinusitis. MedPage Today, February 14, 2012)

Dr Robert Rowan, ‘n dokter wat geïntegreerde medisyne in Amerika beoefen, glo dat die meeste gevalle van sinusitis waarskynlik ‘n virale oorsprong het (of selfs vanaf swamme kom), en derhalwe nie op antibiotika reageer nie. Hy is ‘n sterk voorstaander van die gebruik van waterstofperoksied vir sinusitis, en beweer dat dit vir  virale sowel as swaminfeksies effektief is. Hy stel verder die volgende voor:

Vitamien A: 100,000 IU daagliks vir 1 week (hierdie abnormale hoë dosis is veilig vir ‘n week)

Vitamien C: 1g ( 1000mg) uurliks of soveel as wat die maag kan hanteer vir ‘n week.

Oreganumolie

Gepubliseer met vriendelike toestemming van Dr Bernard Brom, uitgewer van “CreatingHealth Newsletters” www.creatinghealth.co.za

 

  1. 4.       KRILOLIE OF VISOLIE?

Krilolie (“Krill oil”) word die afgelope tyd sterk bemark as ‘n alternatiewe bron van omega 3-olie. Kril is klein garnaalagtige seediertjies. Voorstaanders beweer dat dit baie dieselfde kardiovaskulêre voordele het as visolie, maar dat minder kapsules geneem hoef te word en dat dit geen vissmaak het nie. Krilolie bevat minder omega 3’s EPA en DHA as visolie, maar vervaardigers beweer dat krilolie beter geabsorbeer word aangesien die omega-3’s in ‘n fosfolipiedvorm voorkom. Voorlopige aanduidings is dat krilolie wel cholesterol en trigliseriedes kan verlaag, maar oor die algemeen is daar baie beter bewyse dat visolie trigliseriedes en kardiovaskulêre risiko verminder. Krilolie kos meer as visolie, en voorlopig beveel ons aan dat kliënte by visolie hou en slegs krilolie oorweeg waar die vissmaak regtig ‘n probleem is of waar visolie om ander redes nie verdra kan word nie.

Bron: Natural Medicines Comprehensive Database

 

  1. 5.       STEVIA AS VERSOETER GOEDGEKEUR IN SUIDAFRIKA (UITEINDELIK!)

Die plant Stevia rebaudiana word reeds lankal verbou vir sy soet blare. As versoeter en suikervervanger kom stevia se smaak stadiger deur  maar duur langer as dié van suiker alhoewel sommige ekstrakte ‘n bitter smaak het teen hoë konsentrasie.

 

Stevia, die natuurlike gesonde alternatief tot suiker en kontroversiële aspartaam, is uiteindelik gedurende September 2012 in Suid-Afrika goedgekeur. Stevia het reeds in 2008 GRAS status (“Generally Regarded as Safe) in Amerika verwerf, en is verlede jaar ook deur die EU goedgekeur.Stevia word reeds vanaf 1970 in Japan gebruik waar dit  ‘n 41% markaandeel het weens die beperkings wat daar op kunsmatige versoeters geld.

 

Dit laat mens wonder hoekom stevia in Suid-Afrika en in die VSA verban was? In SA kan mens nie anders as om te dink dat die beskerming van die suikerbedryf iets daarmee te doene gehad het nie, en in Amerika was dit moontlik die beskerming van die kunsmatige versoeters, spesifiek aspartaam. Die goedkeuring van aspartaam het gepaard gegaan met baie kontroversie, en bied interessante leesstof! In Brasilië is wetgewing vroeër vanjaar voorgelê wat die bemarking en gebruik van aspartaam in kos verbied. Regverdiging hiervoor berus op aantygings van ‘n moontlike verband tussen die gebruik van aspartaam en ‘n verhoogde risiko om kanker te op te doen. Aspartaam is die kunsmatige versoeter wat die meeste in Suid-Afrika gebruik word.

By Fortifood kyk ons tans na geskikte stevia-produkte om by ons produklys te voeg. ‘n “Ontbitterde” stevia poeier het onlangs beskikbaar geraak, maar ‘n mens wonder maar watter chemiese prosesse die plantmateriaal gedurende hierdie “ontbitteringsproses” ondergaan. Die bitter nasmaak van stevia was maar nog altyd ‘n probleem, maar persoonlik vind ek dit glad nie onaangenaam nie – die geheim lyk my lê daarin om nie te veel te gebruik nie.

Intussen herinner ons kliënte graag daaraan dat ons wel xylitol aanhou, ook  ‘n natuurlike versoeter wat veilig  vir diabete is en waarvoor bewyse bestaan dat dit tandbederf in kinders kan omkeer!

.

  1. 6.       NUWE PRODUK : D-MANNOSE

Een of ander tyd ly een uit elke vyf vroue aan urienweginfeksie , en dis nie beperk tot vroue nie.

 

Bosbessiesap (“Cranberry juice”) word tradisioneel deur naturopate gebruik om sistitis (blaasinfeksies) te behandel. Alhoewel bosbessiesap voordele mag inhou, bevat dit ongelukkig heeltemal te veel suiker. Hierdie suiker het ‘n nadelige effek op die balans van die flora wat baie belangrik is vir ‘n gesonde urienweg.

 

D-mannose kan in klein hoeveelhede gevind word in bosbessies en ander vrugte and kom ook natuurlik in die menslike liggaam voor. Voorlopige navorsing dui daarop dat D-mannose die aanhegting van bakterieë aan die urienweg belemmer, wat tot gevolg het dat die bakterieë dan so deur die uriene weggespoel en uit die liggaam verwyder word. Hierdie meganisme verklaar dan waarskynlik hoekom D-mannose so suksesvol gebruik word vir die voorkoming en behandeling van urienweginfeksies. In vitro toetse wys dat D-mannose die aanhegting van ongeveer 50% van E-coli stamme aan epiteelselle verhinder.

 

Alhoewel die Fortifood produk “BLADDER FOOD” ook D-mannose bevat, is die dosis wat vir suksesvolle behandeling benodig word meer as wat in “BLADDER FOOD” voorkom. Die mega dosisse wat soms benodig word is eenvoudig nie haalbaar in kapsulevorm nie . Die ideale protokol sou wees om “BLADDER FOOD” aan te vul met D-Mannose, maar elke produk kan ook op sy eie gebruik word.

 

  1. 7.       NUWE BOEKIES OOR SPESIFIEKE GESONDHEIDSPROBLEME

Die volgende boekies wat deur prof. Serfontein geskryf is, is nou beskikbaar:

 

  • HARTAANVAL: WAT NOU? (DIS NIE CHOLESTEROL NIE!) (Ook beskikbaar in Engels)

 

  • SLIMMING: THE PROGRAMME THAT WORKS

 

Ons wil ten sterkste aanbeveel dat u hierdie boekies aanskaf. Behalwe dat die boekies baie nuttig is en goeie geskenke uitmaak bied dit baie interessante leesstof!

 

‘n Boekie vir diabete sal ook binnekort beskikbaar wees.

 

  1. 8.       SINK SUIGTABLETTE NOU WEER BESKIKBAAR

Sedert ons vorige verskaffer van sink suigtablette besigheid gestaak het soek ons na ‘n plaasvervanger.

Die goeie nuus is dat identiese produkte now weer beskikbaar is onder die naam “Zinkies”, en, net soos voorheen, in drie geure beskikbaar is.

 

Dis algemeen bekend dat sink ‘n belangrike rol speel in die ontwikkeling en instanhouding van die gasheer se verdedingingsmeganismes teen infeksies. Die doeltreffende verskansingstelsels van die vel, longe en gastro-intestinale stelsel word almal benadeel deur ‘n tekort aan sink. Zinkies is geformuleer om te help met seer keel, maar dit versterk terselfdertyd die immuunstelsel en kan help met loopneus en hooikoors. So probeer gerus hierdie produkte wat geen skadellike antiseptiese chemikalieë, kunsmatige kleurstowwe of preserveermiddels bevat nie!

 

Ten slotte wil ons u graag bedank vir u volgehoue ondersteuning. Enige voorstelle van u kant aangaande  onderwerpe om in hierdie nuusbrief te bespreek, asook enige vrae van u kant is baie welkom. Alhoewel ons nie altyd onmiddellik antwoorde op u vrae mag hê nie, beskik ons oor die bronne om u van die jongste inligting te voorsien aangaande supplemente en natuurlike medisyne. 

 

Beste wense vir goeie gesondheid,

 

 

Die FORTIFOOD-span

Leave a Reply

You must be logged in to post a comment.